Soek

Inkgedagtes

Op die einde van die dag is dit die woorde wat ons nie sê nie, wat ons die seerste maak.

Vryskud hart

op ‘n dindsdagaand

sal ek maklik kan verdrink

in ‘n vryskud hart 

soos joune

ek sal kan diepseeduik

sonder om ooit weer op te kom

jy is kronies mooi

soos wat die maan 

daai een aand was

-V.S

Featured post

Maan

Ek het die maan laat belowe

om na jou te kyk 

op die aande

wat jy nie by my is nie

en deesdae 

is jy langs my,

maar ek kan voel jou hart is vêr 

ek weet dis nie die maan se skuld nie-

en jy gaan dit ontken

jy en die maan gaan hierdie oorlog wen.

                                    -v.s

Featured post

Genadig

Jy hou nie daarvan om te 

praat as ons fliek kyk nie.

Ek weet nou, dis omdat jy

jouself in die storie verloor.

Tog nou praat jy nie as jy na my kyk nie,

dit voel asof ek jou verloor.

As jy hierdie weer gaan breek,

donner. 

Breek dit net versigtig die keer,

asseblief.

Vreemd hoe ek jou nou vra

om tog net genadig te wees 

met ons sagte harte

waarvoor ons gebid het,

net soos jy my op daai 

warm dag gevra

het om genadig te wees met jou

-V.S

Kaap se sand

Ek wil al hierdie oomblike

saam jou

in die palm van my hand vashou

sodat dit nie soos die Kaap

se sand deur my vingers val nie

jy is ‘n gewoonte vir my hart

jy is soos om asem te haal

en ek is soms bang

jy hou nie daarvan om my hand

vas te hou nie

want jy weet dit beteken

ons word amal te vinnig groot

ons dra tasse wat ons nie wil uitpak nie

en as ek myne moet uitpak

sal dit voor jou wees,

ek weet daar is van daai Kaapse sand daarbinne

-V.S

Toekoms

Ek hoop ons 

ontmoet mekaar

weer,

nie in ‘n ander leeftyd nie-

    net in die toekoms

sodat jy kan sien 

hoe mooi die voorblad van my digbundel uitgedraai het

    en hoe goed dit met my gaan

sodat jy kan sien

hoe ek elke gebreekte stukkie hart wat jy op 

die punt van my bank gelos het

opgetel het

– V.S

Lang Pad

as jy die lang pad wil vat is dit ook okay

jy kan maar jou sterre in iemand anders se heelal gaan sit

ek gun dit vir jou

om uit te vind watter avonture vir jou hart nodig is.

weet net,

die kombuisdeur is altyd oop,

my hart is ook.

Sink Son

sink son,

sag en stil

en ek klou vas

aand die wil om te droom,

want al hang 

dié hart 

aan die grys 

van jou verlede

is die pad reeds vir my geloop.

Tyd kom haal jou

sonder dat jy dit kies

en as my woorde al is 

wat in jou are agterbly

sal ek nooit ophou skryf nie

-V.S

Skatkamers

jou gedagtes 

kom drink steeds 

swart koffie 

op my kombuisvloer

eintlik

in die 

lank vergete skatkamers 

van my hart

-V.S

Reg

die reg om jou lief te hê

is lank reeds nie myne nie

die reg om jou te mis

is lank nie reeds myne nie

want die winter was te lank

maar tog kan ek nie eens 

die koue onthou nie

dis vreemd hoe die koue 

teen my moue opklim

en teen 11:11 in my kraag

kom rus

want die reg 

om jou te mis

is lankal nie meer myne nie

ek kan eerlikwaar nie eers 

laas winter 

se reën 

onthou nie

-V.S

Klein geheime

wanneer dit sag

maar met genoeg mening

reën

kan my hart hoor

hoe Hy klein geheime

vir ons op aarde fluiter

as jy mooi luister

sal jy verstaan

hoekom jy nog nooit

‘n toe deur

kon oop forseer nie,

en hoekom dit wat

vir jou bedoel is

reeds

oopstaan

-V.S

Gemaklik

Jou oe was vol winter

ek kon dit sien

tot net langsaan jou brein

daar sal ek wag

as daar nie opvangs is

nie is dit ook okay-

want hierdie

wonder 

raak gemaklik,

maar mens moet een of ander tyd

hier uit.

-V.S

WordPress.com.

Up ↑